Huldeblyke stroom in ná jong rugbyspeler sterf

Die 21-jarige Jaco Weideman, ’n oudleerder van Hoërskool Goudveld en rugbyspeler in Welkom, is Vrydagoggend oorlede.

AfriNuus het vroeër berig dat Weideman in ’n plaaslike privaathospitaal opgeneem is, nadat hy Saterdag tydens ’n rugbywedstryd gesukkel het om asem te haal.

Weideman het begin sleg voel toe hy ’n harde hou teen sy borskas gekry het.

Volgens Facebook-plasings deur sy familie wat opdaterings oor sy toestand gegee het, het Wiedeman se toestand in die hospitaal vererger en moes hy per helikopter na Bloemfontein se MediClinic oorgeplaas word.

Hy is eers in die intensiewe sorgeenheid (ICU) behandel en onder sedasie geplaas. Weideman het later ’n infeksie ontwikkel en sy hart het gaan staan, wat hom in ’n kritieke toestand geplaas het.

Hy is egter vanoggend in die hospitaal oorlede.

Die Hoërskool Goudveld het vanoggend ’n huldeblyk geplaas:

“Die hele Goutie familie is baie hartseer met die afsterwe van Jaco Weideman, oud Goutie. Ons opregte simpatie met Wimpie, Marco, familie en vriende. Mag ons almal in hierdie moeilike tyd vertroosting vind in die Here se liefde en in Sy wil vir elkeen van ons.”